Slaan oor na inhoud

Vir jou

September 15, 2010

Soms loop ek haastig by jou verby sonder om te vra hoekom lyk jy so verkreukeld vandag. Soms sien ek eers baie later die stormskade aan jou diepste binneste en staan ek beskaamd omdat ek nie lankal my hand uitgesteek het nie. Soms sien ek net die glimlag raak op jou gesig en verstaan ek nie van die wurm wat aan jou binneste vreet nie.

Die winde van die lewe waai ons bymekaar verby soos blare in die herfs en ons kom nie lank genoeg grond toe om mekaar se ware self agter die maskers te vind nie.

Ek wil jou hand vat in die sonlig. Ek wil jou toemaak in ‘n woordkombersie van troos teen die storms in jou hart. Ek wil nie met my lentebloeisels spog en die kneusplekke aan jou rose miskyk nie.

In die hitte van die lewe wil ek vir jou die koelte van my liefde aanbied.

No comments yet

Lewer kommentaar